Publikasie: Bylae tot Transvaler Topbesighede
Uitgawe: 29 Augustus 1990
Bladsy: X111

Mense wat dit oorweeg om ‘n klavier te koop, hetsy nuut of gebruik, moet dit asseblief nie doen voordat hulle ‘n lekker lang gesprek met mnr Wilfried Stolze, eienaar van Stolze Pianos in Schoemanstraat, Pretoria, gehad het nie.

Hier sal u uitvind van die bedrog wat dikwels met die verkoop van klaviere gepleeg word. Die mens wat gedink het hy weet iets van die kwaliteit van klaviere, mag dalk heel ontnugter hier weggaan.

Wilfried Stolze verteenwoordig die derde geslag klavierbouers van ‘n Oos-Duitse familie in Eisenberg waar die fabriek vandag nog is. Kry mnr Stolze aan die gesels en laat hy jou begin fotos wys … en jy sal moeilik daar wegkom!

Sy opleiding as klavierbouer by die familie-onderneming het in sy derde jaar van hom vereis om ‘n volledige klavier te bou.

Hoewel hy baie beskeie en ligtelik oor sy opleiding en ondervinding gesels moet dit u nie mislei.

Hierdie man kén die binnekant van ‘n klavier.