Uitgawe: Maart 1965

BACH-LIEFHEBBERS sal die nuus verwelkom dat ‘n sewentiende-eeuse klawer-bord-instrument, die cembalo, nou weer in Wes-Duitsland vervaardig word en reeds in Suid-Afrika beskikbaar is.

Die pragtige instrument, wat die helfte so groot as ‘n kleinerige vleuelklavier is, is nie ‘n replica van die ouer instrument vir oudhedeversamelaars nie, maar ‘n produk van die beste modern vakmanskap wat gebou word om bespeel te word, en te hou.

Die raam van die vier oktaaf – cembalo is nou van staal en die aksie van die instrument is volgens die jongste ontwerpe verbeter. ,,Vir die vertolking van die werke wat drie honderd jaar gelede vir die cembalo en harpsicord geskryf is, staan hierdie model nie ‘n duim vir die oorspronklike instrumente terug nie,” is die mening van mnr. F. G. K. Stolze, ‘n meesterklavierbouer van Pretoria wat die eerste van die instrumente na Suid Afrika ingevoer het.

Die Snare word nie deur hammertjies geslaan soos in die moderne klavier nie, maar gepluk of bestryk, soos by ‘n harp. Die aksie van die nuwe model is in so ‘n mate verbeter dat dit byna geen onderhoud vereis nie en baie langer klankgetrou diens sal gee.

Musiek wat deur Bach, Scarlatti, en ander wat vir die klavierbord geskryf is honderd jaar voodat die moderne klavier ontwikkel is, word vandag minder gespeel en gehoor as hul komposisies vir orrel en vir orkes en hul koorwerke. Een van die redes hiervoor is dat die modern klavier met sy vol klank en ryke resonansie nie die werke van daardie tydperk tot hul reg laat kom nie.

,,Bach, Handel en later soms Hayden en Mozart het hul musiek vir instrumente soos die cembalo en harpsicord geskryf en dit is op hierdie instrumente dat die kenmerkende kontrapuntstyl van hul werke die beste vertolk kan word,” het mnr. Stolze verduidelik.

Die sestigjarige mnr. Stolze, wat sy vakopleiding in Duitsland ontvang het en reeds die afgelope 25 jaar ‘n meesterklavierbouer is, verwag ‘n beperkte maar geesdriftige mark vir die cembalo.

,,Vir gevorderde klavierstudie moet die student heelwat tyd aan die werke van Bach wy. In Suid-Afrika wend die meeste van die universiteite, konservatorium en musiekonderwysers hulle na die orrel, omdat geskikte klawerinstrumente vir die werke van meester nog altyd haas onverkrybaar was.

,,Ek glo dat hulle die cembalo met ope hande sal verwelkom, veral omdat dit ‘n robuste instrument is wat jarelange diens sal gee.” Groepe soos musiekkringe en ensembles stel ook in die instrument belang aangesien dit hul repertoirs aansienlik sal uitbrei, en daar tans ‘n groot belangstelling in die musiek van die sestiende en sewentiende eeu bestaan.” Het mnr. Stolze gesê.