Publication: News Paper
Published: June 1992
By: Unknown
,,Hy weet álles van klaviere”

Hy kan nie ‘n noot musiek lees nie. Boonop kan hy nie ‘n noot op die klavier speel nie. Tog is mnr. Wilfried Stolze een van die bekendste klavierbouers in die land.
Volgens mnr. Stolze kan ‘n goeie klavierstemmer gewoonlik nie klavier speel nie – ‘n goeie oor vir musiek is egter ‘n vooreiste.
Mnr. Stolze het vir sowat 26 jaar die bekende Stolze Klaviere in Schoeman Straat gehad. Hy het egter besluit dat dit geriefliker vir hom en sy talle klante sou wees indien hy sy onderneming van sy woning in Waterkloofdrif, uitbreiding 2 bedryf.

,,Parkering is hier geen problem nie. Aangesien ek geen oorhoofse koste het nie, word die besparing na my klante oorgedra. Derhalwe is my tariewe baie billik,” verduidelik mnr. Stolze.
Mense wat dit oorweeg om ‘n klavier te koop, hetsy nuut of gebruik, sal wys wees om eers by mnr Stolze kers op te steek.

Klaviere het vandag ‘n uitstekende beleggingswaarde. Die Steinway vleuelklavier, wat beskou word as die ,,Rolls Royce” van klaviere, het in 1969 teen sowat R3 000 verkoop.
Vandag word die Steinway vir sowat R200 000 van die hand gesit.

‘n Diens wat mnr. Stolze aan die publiek lewer, is om teen ‘n geringe bedrag ‘n gebruikte klavier vir ‘n voornemende koper te ondersoek, ‘n kwotasie vir enige herstelwerk te gee en hom aangaande die algemene toestand van die instrument in te lig. So kan ‘n voornemende koper weet of hy ‘n kat in die sak koop en of dit ‘n goeie kopie is.

Hoewel Stolze Klaviere nie gebruikte klaviere as sulks verkoop nie, beskik hy wel oor ‘n lys van voornemende verkopers. Mnr. Stolze onderneem ook om spesifieke klaviere vir sy klante te soek.
Stolze Klaviere verhuur ook ‘n vleuelklavier en ‘n regop klavier (die vleuelklavier word gereeld aan die Presdensie verhuur).

Mense wat in Pretoria verhuis en hul klavier op ‘n professionele wyse wil laat vervoer, is welkom om Stolze Klaviere te nader.

*Stolze Klaviere is in Louisstraat 109, Waterkloofdrif, uitbreiding 2, telefoon 45-1803.