Publikasie:Verwoerdburg News
Uitgawe: Friday February 25, 1994
Bladsy: 25

HY is een van die laaste beoefenaars van ‘n ambag wat besig is om te verdwyn. Sy werk word sò hoog aangeslaan dat pres Banda van Malawi hom spesiaal uit Suid-Afrika laat kom het om ‘n vleuelklavier vir hom te sê.

Die lugmag skroom ook nie om homo or die land rond te vlieg wanneer daar klaviere vir hulle gestem moet word nie.

Onder die bedankingsbriewe op sy lessenaar lê een van die Staatspresident se kantoor.

In ‘n tyd waarin surrogaatmasjiene besig is om al hoe meer ambagte te laat uitsterf, is mnr Wilfried Stolze trots daarop dat hy steeds net sy stemvurk en goeie oor nodig het om ‘n klavier tot sy volle reg te laat kom.

Dié bekende klavierkenner van Pretoria – wat as jongman uit Berlyn in die voormalige Oos-Duitsland na die Weste ontsnap het – is die derde geslag van klavierbouers en –stemmers uit die familie Stolze.

Van die ouer inwonders van Pretoria sal waarskynlik nog die winkel onthou wat hy vir meer as twee dekades in Schoemanstraat gehad het.

Vandag bedryf hy en sy vrou Sonja ‘n suksesvolle onderneming (Stolze Klaviere) van sy woning in Waterkloofrif af. Die Staatsteater maak uitsluitlik van sy dienste gebruik wanneer hulle klaviere gestem moet word.

Dit was juis mnr Stolze wat gesorg het dat die teater se klaviere perfek gestem was toe die eindronde van die Unisa/Transnet Internasionale Klavierwedstryd onlangs daar gehou is.

Mnr Stolze sê benewens ‘n natuurlike aanvoeling en ondervinding is ‘n grondige kennis van sy instrument net so belangrik vir die klavierstemmer wat sy werk ernstig opneem.

Dié kennis het hy opgedoen toe hy in Duitsland eiehandig ‘n klavier moes bou om as ambagsman te kon kwalifiseer.

Vandag neem herstelwerk aan klaviere ‘n groot deel van sy werkdag in beslag. Danksy sy agtergrond as klavierbouer kan hy feitlik elke sort klavier herstel. Een werkstuk waarop hy besonder trots is, is ‘n Richard Lipp & Sohn-tafelklavier van ‘n anderhalf eeu waarin hy weer nuwe lewe geblaas het.

Hoewel klaviere ‘n uitstekende beleggingswaarde het, moet mense vandag versigtig wees wat hulle koop, sê mnr Stolze. “Nie alle klaviere met Duitse name is byvoorbeeld in Duitsland gebou nie.”

‘n Goeie aanduiding of ‘n klavier deur een van die ou meesters gebou is, sal wees dat die naam in die ysterraam van die instrument ingegiet sal wees.

Mense wat ‘n klavier en veral ‘n tweedehandse klavier wil aanskaf, kan gerug eers by mnr Stolze gaan kers opsteek. Hy gee graag raad en by private transaksies sal hy ‘n klavier vir ‘n voornemende koper met die oog op ‘n waardasie en moontlike herstelwerk ondersoek.

Benewens die stem en herstel van klaviere, is die Stolze-familie ook die mense om te nader wanneer dit by die vervoer en verhuring van klaviere asook die verkoop van gebruikte klaviere kom. Dié afdeling van die onderneming word deur Sonja Stolze onder die naam Stolze Musiek bedryf.