Publikasie: Beeld
Uitgawe: Saterdag, 11 November 1989
By: Dana Snyman

Hy het al 2 keer gevlug

MNR. WILFRIED STOLZE van Pretoria was gisteroggend besig om vir hom badwater te laat inloop toe hy hoor die grens tussen Oos- en Wes-Duitsland is oopgestel.

“Dit was alles soos ‘n droom. Ek het op my vinnigste na die TV gehardloop. Ek kon dit nie glo nie. Eers nadat ek drie keer nuus gekyk het, was ek oortuig dis waar,” het mnr. Stolze (48) gistermiddag gesê.

Maar nog steeds het hy effens getwyfel. “Toe gaan bel ek my ma, Johanna, en vra haar of sy die nuus gehoor het. Dit was vir haar net so onwerklik om te sien hoe klouter die mense oor die muur sonder om geskiet te word. Ongelooflik.”

Mnr. Stolze, ‘n klavierbouer in die stad, was in 1961 een van die laaste Oos-Duitsers wat daarin kon slag om uit die land te vlug. ‘n Skrale ses maande later is die muur opgerig.

Hy onthou die dag van sy ontsnapping asof dit gister was.

“Ek en my vrou het op 19 Januarie 1961 op die trein geklim. Dit was net ‘n dag nà ons troue. Ons het Wes-Berlyn toe gegaan onder die voorwendsel ons gaan ons wittebroodsvakansie hou.”

“As ons ‘n uur later opgeklim het, het hull eons gehad. Die name van almal wat verdink is dat hulle na die Weste wil vlug, het op ‘n swartlys verskyn. Ek het later vasgestel ons name is omtrent ‘n uur nada tons uit land was op die lys geplaas. Ons sou minstens sewe jaar trunk toe gaan as hull eons gevang het.”

Eintlik het mnr. Stolze twee keer uit Oos-Duitsland gevlug om hom in Suid-Afrika te vestig. As sesjarige het hy in 1947, net nà die Tweede Wêreldoorlog, saam met sy ouers na Wes-Duitsland gevlug. In 1947 het die gesin na Suid-Afrika geemigreer.

Omdat die jong Wilfried as klavierbouer opgelei wou word, het hy in1957 na Oos-Duitsland teruggekeer. Daar het hy die ambag geleer onder sy oupa, mnr. Willy Hutzelmann.

Was hy destyds bang toe hy gevlug het?

“Nee, ek was nog jonk. Ek onthou nog goed hoe die soldate van kompartement tot kompartement beweeg het. Hulle het ons paspoorte gevra en ons tasse deursoek. Dit was gevaarlike tye.

“Die Muur is sowat ses maande nà ons ontsnapping opgerig. Dit was ‘n lelike ding. Elke soldaat wat iemand kan skiet wat oor die Muur probeer vlug, het ‘n horlosie en geld gekry.”

Mnr. Stolze het vandag nog ‘n boek in sy kantoor vol grusame foto’s van mense wat op een of ander manier doodgemaak is toe hulle oor die Muur wou ontsnap. “’n Mens sal seker nooit werklik weet hoeveel mense by daardie muur doodgemaak is nie.”

Maar gister wou hy niks van die boek weet nie…

“Dis verby. Die Muur is weg, ons moet bly wees. Ek het nog ‘n oom daar. Ek glo nie hy sal in die Weste kom woon nie, maar miskien kan hy een van die dae kom kuier. Dis vandag tyd vir ‘n bietjie gemütlichkeit,” het hy beduie en ‘n groot bottle vonkelwyn bestel.