Published: 17 Jan 1991
Stolze Pianos verkoop nuwe asook gebruikte klaviere, vleuelklaviere en ander kleiner musiekinstrumente soos viole, fluite, balalaikas en tipiese boerekonsertinas wat in Oos-Duitsland gemaak is.
Herstelwerk aan klaviere is egter sy forté. Hier is dié bekwame klavierbouer in sy element. Hy wys ons die groot aantal klaviere wat in sy werkswinkel wag om herstel te word. Een se klankkas het buite gebrand, ‘n ander moet nuwe vilt en hammertjies kry omdat die motte die voriges geëet het en nog ‘n ander een word sommer heeltemal nuut oorgebou.
Mnr Stolze stem ook gereeld klaviere en onderneem van tyd tot tyd ‘n weeklange reis na die platteland waar sy “medewerkers” vir hom ‘n hele klompie afsprake op ‘n keer reël.
Ons was verstom om te verneem dat mnr. Stolze nie kan klavier speel nie. ,, Ek kan nie klavier speel nie. Ek kan nie bladlees nie. Om die waarheid te sê het ek tot onlangs toe nooit eens ‘n klavier in my huis gehad nie,” vertel mnr. Stolze.
Hy sê ‘n goeie klavierstemmer kan gewoonlik nie klavier speel nie. Maar dat ‘n klavierstemmer wel ‘n goeie oor vir musiek en stemme moet hê, is ‘n vooreiste. ,, Dit is ‘n kuns wat ‘n mens nie deur boeke kan aanleer nie. Slegs deur ondervinding.”
Terwyl mnr. Stolze se vader, ook ‘n klavierbouer , nog saam met hom die die besigheid was – hy is nou oorlede – het hulle ‘n elektroniese instemmer gekoop. ,, Maar ons het dit gou weer verkoop, want ons kon nie daarmee regkom nie,” sê hy.
Nog ‘n diens wat mnr. Stolze aan die publiek lewer, is om, teen fooi natuurlik, ‘n gebruikte klavier vir ‘n voornemende koper te ondersoek, ‘n kwotasie op enige herstelwerk te lewer en hom aangaande die algemene toestand van die instrument in te lig. Só kan die koper weet of hy ingedoen word of werklik ‘n goeie kopie kan doen.
Mnr. Stolze vertel met ‘n geamuseerde glimlag van die keer toe President Banda van Malawi hom in die vroeë tagtigerjare soontoe gevlieg het om te sorg dat die klavier , vir die Onafhanklikheidsvieringe gebruik sou word, in ‘n goeie toestand sou wees.