Publikasie: Oostelike Stem
Bladsy: 8
By: Vasti Grové
“Wanklanke oor klavierstemmers”
“Mense word gruwelik mislei deur klavierstemmers en herbouers”. Só sterk spreek mnr. Wilfried Stolze hom uit oor die onreg in die klavier bedryf. Mnr. Stolze is die eienaar van een van Pretoria se bekendste musiek winkels.
“Ons klavierherstellers het ‘n slegte naam gekry – en die publiek is ontevrede. ‘n Mens kan hulle seker nie kwalik neem nie want ons kry elke dag te doen met onprofesionele herstelwerk, klaviere wat stukkend verkoop word en waarborge wat heeltemal nutteloos is.”
“In Europa, waar ek vandaan kom, uit drie geslagte van klavierbouers, is dit ‘n ander saak. Die standard waaraan ‘ man moet voldoen voordat hy hom as klavierbouer kan uitgee, is baie hoog. Ons Suid Afrikaners moet nog geleer word waarna om te kyk voordat hulle ‘n nuwe of herboude klavier aankoop.”
Die aankoop van ‘n klavier is ‘n baie delikate onderwerp wat baie oorwegings inhou. ‘n klavier is soos ‘n vriend wat jy in jou huis innooi en waarmee jy vir die res van jou lewe in harmonie moet saamleef.
Waarna on te kyk by die aankoop van ‘n nuwe of herboude klavier:
Maak die klavier eerstens heeltemal oop en kyk veral na die volgende.
- Die potyster-raamwerk: dit kan vergelyk word met die skelet van ‘n mens. As ‘n been êrens gebreek is, kan die liggaam nie regop staan en sy werk verrig nie. Die potyster moet nêrens gekraak of gebreek wees nie. Let veral op by die dun of swakker gedeeltes – dit is gewoonlik waar die raamwerk breek; selfs ‘n nuwe klavier kan hier ‘n fout hê
- Die klankbord: Dit is die hout agter die snare, wat as klank-vibreerder dien, soos die luidsprekers van ‘n radiogram.As dié hout ‘n bars in het sal die klank nie suiwer vibreer nie, dit sal distorsie hê. Die reperasie van so ‘n bars in die hout moet baie kundig gedoen word. ‘n Dun strepie driehoekige hout moet perfek in die bars of kraak ingepas word.
- Die filt onder die klawers: Hierdie filt is van skaapwol gemaak en die klawers rus daarop. Motte is die grootste sondaars hier – hulle vreet die filt op. ,,Ek het al gesien hoedat vilt vervang is met stukkies ozite-materiaal – wat heeltemal verkeerd is,” sê mnr. Stolze. Dit is raadsaam om ‘n sakkie mottegif in die klavier te plaas.
- Die Snare: Hulle moet nie verroes wees nie. ,,Veral by die kus of wanneer muise in die klavier nes gemaak het, wat dikwels gebeur, sal die snare beslis verroes wees,” vertel mnr. Stolze.
- Die Hamers: Hulle moet nie afgeslyt wees nie en kan tot R180 of meer kos om te vervang.
U as koper van ‘n nuwe of herboude klavier moet by die verkoper aandring dat u na hierdie punte kan kyk. Enige goeie handelaar sal u toelaat om seker te maak dat die instrument wat u koop, in goeie orde is. In die volgende uitgawe van Oostelike Stem sal daar meer oor hierdie netelige saak verskyn.