Publikasie:Pretoria Pos
Uitgawe: Oktober 1984
Bladsy: 6

“Mense word gruwelik mislei deur klavierstemmers en herbouers”. Sò sterk spreek mnr. Wilfried Stolze hom uit oor die onreg in die klavierbedryf. Mnr Stolze is die eienaar van een van Pretoria se bekendste musiekwinkels.

“Ons klavierherstellers het ‘n slegte naam gekry – en die publiek is ontevrede. ‘n Mens kan hulle sekerlik nie kwalik neem nie want ons kry elke dag te doen met onprofessionele herstelwerk, klaviere wat stukkend verkoop word en waarborge wat heeltemal nutteloos is.”

“In Europa, waar ek vandaan kom, uit drie geslagte van klavierbouers, is dit ‘n ander saak. Die standaard waaraan ‘n man moet voldoen voordat hy himself as klavierbouer kan uitgee, is baie hoog. Ons Suid-Afrikaners moet nog geleer word waarna om te kyk voordat hulle ‘n nuwe of herboude klavier aankoop.”

Die aankoop van ‘n klavier is baie delikate onderwerp wat baie oorweginginhou. ‘n Klavier is soos ‘n vriend wat jy in jou huis innooi en waarmee jy vir die res van jou lewe in harmonie moet saamleef. Hier is ‘n paar van die vele gevaarpunte waarmee ‘n mens te kampe kry wanneer jy ‘n gebruikte klavier koop.

  • Raam – Kan gekraak of stukkend wees wat die klavier musikaal strem end us nutteloos maak.
  • Snare – As die bas snare moeg en uitgespeel is, is daar weinig toon oor.
  • Klankbord – Mag gekraak wees, maar erger nog – dit mag sy kurwe verloor het, wat die klavier van sy toon en kwaliteit ontneem.
  • Ribbalke – Kan gebreek wees en weggetrek van die klankbord.
  • Brûe – Die verlies van stewigheid en gekraakte en gesplete brûe gee aanleiding tot geweldige uitgawes.
  • Penne – Hulle mag los wees of opgevul. Moet vervang word met ‘n penblok of dicker penne. Vermy asb ‘n klavier as u vermoed dat daar met sy penne gepeuter is!
  • Penblok – Dis ‘n enorme uitgawe om ‘n gekraakte penblok te vervang. Verkry professionele hulp in so ‘n geval.
  • Meganiek – Kan letterlik uitgespeel wees en die klavier nutteloos laat. Herstelwerk op uitermatige slytasie aan die meganisme is baie duur en tydsaam en verg professionale aandag.
  • Hamers – As die hamers afgespeel is of nie behoorlik gevyl nie, moet hulle vervang word – ‘n enorme uitgawe!
  • Pedaalmeganisme – Die totale inwendige hefboom- en demperkontroles mag ‘n diens benodig.

Afwerking – Baie mense leer tot hulle verdriet dat die herafwerkings van ‘n klavier nie ‘n doen-dit-self projek is nie.