Publikasie: Beeld
Uitgawe: Vrydag, 22 Julie 1988
Deur: Andriette Stofberg
‘n KLAVIERBOUER begin sy ambag van onder af leer – nie by die pedale nie, maar by die vee en skrop van vloere in ‘n klavierfabriek, sê mnr. Wilfried Stolze (47), een van Suid-Afrika se klein proepie opgeleide klavierbouers.
Na raming is daar net sowat twintig van dié mense in die land, van wie byna almal oorsee opgelei is. Mnr. Stolze, wat al 23 jaar ‘n musiekwinkel in Pretoria besit waar hy ook klaviere herstel en restoureer, is ‘n voormalige Oos-Duitser wat sy ambag in dié land geleer het voordat hy in 1961 na die Weste gevlug het.
Sy familie het geslagte lank die ambag van klavierbou beoefen. Van sy familie besit nou nog die Hutzelmann-fabriek in die Oos-Duitse stadjie Eisenberg in die provinsie Thüringen. Dit is dié fabriek, die enigste in Eisenberg wat nog in private besig is, waar mnr. Stolze as klavierbouer opgelei is.
Eintlik het hy twee keer uit Oos-Duitsland gevlug om hom in Suid-Afrika te vestig.
As sesjarige het hy in 1947, net nà die Tweede Wêreldoorlog, saam met sy ouers, suster en broer na Wes-Duitsland gevlug. Destyds is die grens nog nie so streng bewaak nie. Terwyl hulle in Wes-Duitsland gewoon het, het die gesin ‘n paar keer skelm die grens oorgesteek om hul familie in Oos-Duitsland te besoek.
In 1953 het die gesin na Suid-Afrika geïmmigreer. Omdat die jong Wilfried destyds ook as ‘n klavierbouer opgelei wou word, het hy in 1957 na Oos-Duitsland teruggekeer. Daar het hy in Eisenberg die ambag geleer onder sy oupa, Mnr. Willy Kurt Hutzelmann, wat die fabriek in 1919 saam met sy broer begin het.
Die opleiding duur sowat drie jaar. Die finale toets is baie straf: die vakleerling moet ‘n klavier van niks af bou. Dit sluit alles in – van die houtwerk tot die maak van die snare.
Mnr. Stolze sê hoewel die Oos-Duitsers hom nà sy terugkeer ‘m Oos-Duitse paspoort gegee het, het hy probleme ondervind met die politieke situasie. In 1961 het hy die tweede keer na die Weste gevlug en na Suid-Afrika teruggekeer.
In die winkel wat h yen sy pa mnr. Kurt Stolze, 23 jaar gelede in Schoemanstraat begin het, staan die enigste aandenking aan die fabriek in Eisenberg wat die gesin na die Weste kon bring: ‘n Hutzelmann-klavier.
Hoewel mnr. Stolze nou nie meer klaviere bou nie, is dit steeds vir hom ‘n liefdestaak om klaviere te herstel en te restoureer. ‘n Mens moet ‘n bepaalde aanleg hê om ‘n klavierbouer te wees, sê hy.
Dié werk het hom al op ver paaie geneem. Sò is hy ‘n paar jaar gelede vòòr die onafhanklikheidsviering van Malawi na dié land ontbied om die klavier te herstel en stem wat by die feestelikhede gebruik sou word.
Toe hy daar kom, moes hy hoor dat die enigste beskikbare klavier op ‘n afgeleë sendingstasie was. Nada thy die plek met ‘n groot gesukkel bereik het, het hy vasgestel dat die klavier in sò ‘n swak toestand was da thy al sy vernuf moes gebruik om dit daar in die boendoe betyds herstel te kry.
Die familiefabriek is wel duisende kilometer ver, maar die familiebloed vloei steeds sterk in die gesin Stolze se are. Dit blyk uit ‘n tekening wat die jongste seun Werner (8), al in die kleuterskool gemaak het oor hoe hy ‘n klavierbouer gaan word.
Dié tekening het ‘n ereplek in die winkel saam met ou foto’s en sertifikate van die geslagte Stolze- en Huzelmann-klavierbouers en hul fabriek in Oos-Duitsland.
Pas op vir gebruikte klavier
MENSE wat ‘n gebruikte klaviere koop, moet lig loop dat hulle nie aan die neus rondgelei word en ‘n clavier koop wat hulle duisende rande gaan kos om te laat herstel nie, sê mnr. Wilfried Stolze, klavierbouer van Pretoria.
Volgens hom word mense dikwels lelik uitgebuit wanneer hulle ‘n gebruikte klavier koop omdat hulle nie weet waarop om te let nie.
Daar is tans ‘n groot vraag na goeie gebruikte klaviere. Sulke klaviere kos tussen sowat R 2 500 en R 18 000 en verteenwoordig ‘n stewige beleging. Tog kry hy dikwels te doen met mense wat weens onkunde vir hulle ‘n kat in die sak koop end an met ‘n klavier sit waaraan herstelwerk van duisende rande gedoen moet word.
Sò was daar onlangs ‘n geval van iemand wat ten duurste ‘n gebruikte klavier met ‘n bars in die klankbord gekoop het. Sò ‘n bars kan die klavier sy toon ontneem, veral as die klankbord se kurwe nie meer reg is nie. Tog het die man by wie die klavier gekoop is, die koper verseker dat dié bars vir die ventilasie van die klavier nodig is!
‘n Klavier is ‘n baie sensitiewe instrument en moet baie goed opgepas word. Dit is uiters gevoelig vir veranderinge in die temperatuur en lugdruk.
Min mense het werklik kennis oor die spanning waaronder ‘n klavier gedurig verkeer. Sò is die 230 snare getrek teen ‘n gemiddelde spanning van 90kg elk en verkeer die ysterraam saam met die houtraam onder ‘n spanning van 18 tot 20 t.
Weens hul onkunde is dit vir die meeste mense ‘n waagstuk om ‘n gebruikte klavier sonder die hulp van ‘n kenner te koop. Mnr. Stolze het egter ‘n paar goue reels vir voornemende kopers:
- Luister eers na die klank. As daar iets is wat ratel of rammel, dui dit daarop dat iets dalk los is, soos ‘n bedekkingsdraad om die snare. Daar kan ook ‘n los brug wees of ‘n bars in die klankbord.
- Speel op die klavier. Die klavier moet doen wat jy hom vra. Dit moet sag klink wanneer jy sag speel of hard wanneer jy hard speel. As die speelaksie van die klavier glad is, sal die hamer dadelik terugval nadat dit die snaar geraak het. Die dempers sal ook dadelik terugval as die klawer gelos word.
- Kyk of daar ‘n bars in die klankbord aan die agterkant van die klavier is. Diè bord dien as klankversterker. Dit is in ‘n effense boogvorm. Die hoë spanning waaronder die snare verkeer, trek die klankbord reguit. As daar ‘n bars in die klankbord is, sal die houtbrug wat die vibrasies na die bord oordra, net die deel van die klankbord tot by die bars laat vibreer. Die toon van die klavier word sò benadeel.
- Die hamers moet deeglik ondersoek word. ‘n Hamer bestaan uit ‘n houtvorm wat met tweestroke vilt bedek is. Die boonste lag moenie hard, ingeduik, gesny of stukkend wees op die punt waar dit kontak maak met die snaar nie.
- Ondersoek die snare en die stempenne. Vermy ‘n klavier as vermoed word dat met sy stempenne gepeuter is. Ou klaviere roes soms om die snare wat om die stempenne gedraai is. As ‘n stemmer die snare stywer span, kan die snare breek omdat die roes die draad aan die pennetjies “vaslym”.
Die beste voorsorgsmaatreël by die koop van ‘n gebruikte klavier is om ‘n stemmer saam te neem sodat hy kan bepaal of die foute wat daar is, herstel kan word.